'n Persoonlike relaas deur Willie Marneweck — hoe 'n soeke na 'n skaars van uiteindelik 'n hele familie se verhaal ontsluit het
Hierdie is nie 'n akademiese skripsie nie, en ek maak ook nie aanspraak daarop dat elke woord daarvan feitelik korrek is nie. Dit is eerder 'n persoonlike relaas — 'n poging om, soos ek dit kon vasstel en onthou, die verhaal van die Marnewecks van Grünberg tot vandag in my eie woorde weer te gee.
Relatief min inligting is algemeen omtrent die Marneweck naam bekend en dit word taamlik min in Suid Afrika in die media en alledaaglikse interaksies aangetref. Daar is geen statistiek bekend van die huidige getal naamdraers in Suid Afrika nie, nog minder in vroeër jare. Ek onthou jare gelede was daar darem ongeveer twintig Marnewecks in die Pretoria telefoon gids gelys. Dit het ingesluit die amptelike variante van die spelling, bv. Marneweck, Marnewick, Marnewecke, ens. 'n interessante verskynsel, seker omrede die naam so skaars is, is die vreemde spellings wat ander mense, in hulle onkunde, mee te voorskyn gekom het. Op 'n stadium, in my jonger dae, het ek dit amusant gevind om die verskillende foutiewe spellings op te teken. Die bronne daarvan was meestal inkomende korrespondensie aan my en ook ander geskrewe bronne. Na ek sowat dertig variasies op geteken het, het die aardigheid daarvan gekwyn en het ek besluit, al kan daar waarskynlikheid nog meer opduik, om die "speletjie" te staak. Dit gebeur nou en dan dat by ontmoeting met 'n vreemde persoon, dié sal opmerk dat hy/sy nog nooit die naam teëgekom het nie. Aan die ander kant mag 'n vreemde persoon moontlik vra of jy dalk familie is/was van, sê byvoorbeeld, die Marnewecks van Delmas. Een ding kan aanvaar word as 'n feit en dit is dat die naam ongelukkig nog geen besondere figure in ons geskiedenis opgelewer het nie. Daar is werklik geen bekende politici, wetenskaplikes, of ander prominente figure met hierdie naam wat wyd bekend was, of tans is nie. Daar is wel 'n Marneweck straat in Moreleta Park Pretoria! In die Moreleta Park Natuur Reserwe was daar 'n Marneweck (plaas) huis maar dit is intussen herdoop na Rademeyer huis. Gegewe die lang periode vanaf die eerste Marneweck hier aangeland het, is dit nogal vreemd dat die naam so skaars is. Dit verklaar natuurlik waarom die algemene publiek die naam vreemd vind. Nieteenstaande die onbekendheid, wys my rekords dat 'n redelike aantal Marnewecks aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het, maar later meer hieroor.
Ek kan nie voorgee dat alles wat hierdie storie vertel word feitelik korrek is nie. Nietemin is gepoog om dit so korrek moontlik te weergee as wat ek as amateur skrywer dit kan vermag. Dat iemand hier en daar nie met alles saamstem nie is seker te verwagte.
Dit word gehoop dat lesers hierdie relaas interessant sal vind. As daar ander Marnewecks is wat hierdie verhaal lees en bydraes of korreksies wil voorstel, doen dit gerus. Raadpleeg KONTAK op hierdie webtuiste.
Om die stamvader Marneweck se agtergrond na te gaan en te herlewe is dit dalk goed en nodig om 'n terugblik te gee van die vroeë geskiedenis van die Kaap en hoe die toestande daar was toe hy hier aangekom en dit hier beleef het. Ek het dit dus goed gedink om in die storie meer uitgebreid oor die geskiedenis te vertel met die hoop dat dit vir die leser ook interessant mag wees. Na alles, dit wat ons op skool van die vroeë Kaapse geskiedenis geleer het, het nie altyd die volle en hele waarheid of volledigheid weerspieël nie. Boeke soos The Covenant (James Michener), Eilande (Dan Sleigh), Dagboek van Adam Tas, Die Kaapse Patriotte (Coenraad Beyers), ens. het vir my heelwat ander perspektiewe gegee. Selfs Wikipedia het heelwat te vertel oor die Verenigde Oos Indiese Kompanjie (hierna die VOC genoem).
Omdat hierdie geskrif nie bedoel is as 'n akademiese skripsie nie, word aanhalings en verwysings nie op puntenerige akademiese wyse gedokumenteer nie. Waar moontlik, om dit nie verlore te laat gaan nie, word alle dokumente wat ek in argiewe en elders kon vind, wat handel oor enige aspek van die Marnewecks, as bylae bewaar. As sekere aangehegte dokumente en inligting nie vir my van nut was of belangrik is nie, kan iemand anders hierdie inligting dalk benut. Dit geld veral sou iemand ander vertakkings van hulle stamboom wil bekom.
Dit mag gewonder word hoekom die storie nie al jare gelede geskryf was nie, nadat 'n aansienlike hoeveelheid inligting reeds jare gelede versamel en beskikbaar was. Laat ek so verduidelik. Vroeër jare was dit bloot uit belangstelling en nuuskierigheid gewees om meer te wete te kom oor die Marnewecks en om hierdie rede het ek soveel moontlik inligting versamel, waar ek ook al iets kon opspoor. Daarna het jare verby gegaan waartydens ek te besig was om verder aandag daaraan te skenk.
Dan moet mens ook bieg dat al het die gedagte by my ontstaan om iets met die materiaal te doen dit miskien 'n kwessie was van uitstel kom afstel. Daarbenewens moet mens jou kop rondom die uitdaging kry om dit aan te pak. Daar was baie afleidings wat meer belangrik en aangenaam was as om so 'n storie te skryf.
Die VOC in 1602 as die "Vereenigde Oost-Indische Compagnie" gestig (vandag word dit erken as die eerste multinasionale maatskappy in die wêreld). Dit het honderde skepe bedryf wat dwarsom Afrika, Europa, Asië en die Indonesiese argipel handel gedryf het. Teen die jare 1669 het die VOC sowat 50,000 werknemers in diens gehad. Daar was 60 sogenaamde bewindhebbers (vennote). Teen 1671 was VOC aandele op die Amsterdamste beurs 570 % van hulle nominale waarde werd. Dit was dus 'n florerende maatskappy van groot omvang en bates. Soos die geval van maatskappye destyds en hedendaags, is winsbejag en dividende vir die aandeelhouers die sterkste dryfveer.
Die VOC was 'n privaat maatskappy met die aandeelhouding uit ses "kamers". Die kamers was aandeelhouers uit 6 stede in Nederland, waarvan Amsterdam die grootste was. Sewentien "direkteure" of beheerraad was gekies uit die ses kamers, genaamd die Here Sewentien, wat natuurlik beteken het dat daar sewentien persone op die "direksie" was. Die hoeveelheid direkteure van 'n kamer wat op die raad gedien het was proporsioneel aan die aantal aandele wat elke stad besit het.
Om suksesvol handel op globale omvang te bedryf, was daar massiewe risiko's en gevare betrokke. Seerowers, en skepe van vreemde lande soos Engeland en Portugal was voortdurend 'n gevaar vir VOC skepe. Die handelsvloot moes toegerus wees het met potente bewapening en opgeleide soldate. Die soldate was nie verbonde aan enige weermag of regering instelling nie. Waar ook al die VOC 'n buitelandse vestiging gestig het was daar die bedreiging van binnelandse inboorlinge van daardie land, asook vreemde moondhede wat aanvalle op 'n vestiging kon loods. By sulke vestigings was wapens, manskappe en een of ander vorm van beskutting en fortifikasie ook noodsaaklik. Voeg daarby dat werknemers gevoed, geklee en betaal moes word en onder een of ander vorm van gesag moes funksioneer, en die omvang van die VOC kom in die prentjie. Verloor nie uit gedagte dat die regering van Nederland (gebroke soos dit in daardie jare was) nie betrokke was nie. Die VOC moes self wet en orde handhaaf om hulle bates en werknemers beskerm.
Die VOC se bestaan is beëindig op 31 Desember 1799, as gevolg van korrupsie en swak bestuur, smokkelary, groot administratiewe uitdagings en skuld. Om verder die omvang van die VOC uit te lig, let op die volgende. Die VOC was gemagtig om hulle eie vlag te hys en eie muntstukke te slaan. Hierdie magtige maatskappy (destyds genoem 'n Compagnie) moes sy handel, handelsroetes, skepe, nedersettings en dies meer, soos reeds uitgelig, self beskerm. Dit is 'n feit dat die Nederlandse regering nooit militêr of diplomaties vir die VOC (interessant ook nie vir die Wes Indiese Kompanjie nie) in die bresse getree het nie. Die VOC was sekere goewerment-magte toegesê, insluitend om oorlog te maak asook in hegtenis name, straf toepassing en teregstelling van oortreders. In die boek "Eilande" (Dan Sleigh) word beskryf dat hierdie magte oor werknemers van die VOC, maar ander persone soos vryburgers en plaaslike inboorlinge, van toepassing gewees. Die VOC het soos genoem bykans geen bystand van die Nederlandse regering ontvang nie. Die kompanjie moes dus 'n geweldige groot aantal mans in diens gehad het, van gewone admintratiewe amptenary, fiskale, seemanne, soldate, sjirurge en so voorts. Dit word bereken dat die VOC oor sy algehele bestaan meer as 'n miljoen Europeërs na Asië gestuur het met 'n vloot van 4785 skepe. Sy naaste teenstander, Brittanje het slegs oor 'n fraksie van daardie aantal skepe beskik. Omdat Nederland nie oor genoeg menslike hulpbronne beskik het nie, moes die kompanjie natuurlik uitreik na ander Europese lande, seker by voorkeur na Duitsland. Die spreektaal van die VOC was natuurlik Nederlands en dit is logies dat Duitsers redelik maklik die taal kon optel. Hou ook in gedagte dat daar wesentlike vyandigheid tussen Nederland en die Britte, Franse, Portugese en Spanjaarde was. Duitsland was alles behalwe 'n verenigde staat en het oor 'n aantal, koninkryke, hertogdomme ens. bestaan. Soos Karel Schoeman in sy boek, "'n Duitser aan die Kaap" vertel, het groot getalle werk-soekende mans van Duitsland na Nederland migreer op soek na werk. Aldaar is manne gewerf vir diens in die Kompanjie. Sonder om die verhaal vooruit te loop, glo ek dat die Marneweck stamvader op hierdie wyse by die VOC aangesluit het en in Kaap de Goede Hoop aangeland het. Dit was ook VOC beleid om nie Rooms Katolieke aan te stel nie omdat Nederland oor 'n lang periode onder die juk van die Franse en Spanjaarde was. Albei was erg Katoliek.
Die VOC het met elke persoon wat in diens geneem was 'n kontrak gesluit wat die loon en tydperk van die dienskontrak uitgespel het. Kontrakbreuk was 'n ernstige oortreding in die oë van die VOC.
Jan van Riebeeck word as die volksplanter en 'n held deur die meeste Afrikaanse Suid Afrikaners beskou, met menigte dorpe, voorstede en straatname na hom vernoem. Die feit is dat hy slegs 'n amptenaar van die VOC was en hulle opdragte en beleid moes eerbiedig. Dit is algemeen bekend dat hy na die Kaap verplaas was om 'n verversings stasie vir die VOC te stig. Dit was seker nie vir hom 'n gesogde verplasing nie, vergeleke met die hoë lewe wat die VOC amptenare in Batavia geniet het. Dit word beweer dat hy iewers teenoor die VOC fouteer het en dat hy na die Kaap gestuur was om hom te rehabiliteer. Aan die baai van Tafelberg was alles ongerep en wild. Hy het verseker die plasing as 'n tydelike verblyf beskou, waarna hy weer na ander meer 'n gesogte bestemming verplaas sou word, bv. na Batavia. Aan die Noorde van die eiland Java het die VOC 'n nedersetting gevestig en dit Batavia genoem. Dit heet Jakarta vandag. Terug na Jan van Riebeeck: Dit word deur sommige verkeerdelik gedink dat van Riebeeck die kasteel in Kaapstad (kasteel de Goede Hoop) gebou het, maar die eer kom sy opvolger Zacharias Wagenaer toe. Hy het wel 'n vierpuntige fort (fort Goede Hoop) uit hout en klei gebou. Mens kry die indruk dat hy beskou moet word as 'n redelike goeie leier. Ook kry mens nie die indruk dat hy hom aan magsmisbruik skuldig gemaak het nie.
Vir my lyk dit asof die Nederlandse benadering tot kolonisasie in daardie jare anders plaasgevind het as die geval van Brittanje en ook Spanje en Portugal. Dit wil voorkom of hierdie lande in daardie era, en ook seker later eras, 'n totaal ander benadering tot vestiging by 'n nuwe land of eiland, of wat ook al, gevolg het. By laasgenoemdes is 'n nuwe "land" altyd namens die "kroon" ingeneem en hierdie nasies het dit daarna as deel van hulle dominium beskou. In die geval van die Nederlanders het bv. die VOC, en ook die Wes Indiese Kompanjie (die WIC was gevestig in Nieuw Amsterdam, die huidige New York Stad) die vestigings wat hulle 'n "factorij" genoem het, self ingeneem en die landsgebied as maatskappy eiendom beskou het. Die regstelsel was totaal onder beheer van die VOC. Die VOC was nie net 'n handelsmaatskappy nie, maar ook 'n soewereine entiteit met reg om wetgewing te maak, belasting te hef en regspraak te administreer. Alle magte, insluitend wetgewende, uitvoerende en regsprekende magte was by elke nedersetting in die hande van die Politieke Raad (Raad van die Politie), wat deur die goewerneur en ander senior amptenare bestuur was.
Die Kompanjie het alle wet en orde self gehandhaaf deur middel van hulle eie soldate en "fiscale". Die wet en orde was toegepas, blykbaar soms sonder behoorlike verhoor sonder dat 'n aangeklaagde behoorlike verdediging toegelaat was. Die ergste vorme marteling en selfs die doodstraf is algemeen toegepas. Die boeke van Dan Sleigh (Eilande) en James Michener (Covenant) gee mens 'n goeie beeld van omstandighede destyds aan die Kaap. Ons sal later sien hoe dit die Marneweck stamvader getref het. Hoewel gemelde boeke nie noodwendig gedokumenteerde geskiedenis bevat nie, wil ek glo dat dit nie blote fiksie is nie, want die VOC se amptenare het noukeurig rekord gehou van alle gebeurtenisse aan die Kaap, en natuurlik elders ook. In Lawrence Green se boek Karoo vind mens 'n interessante storie. Twee broers Carel en Jacob Kruger het Rijksdaalders vervals ongeveer 1776. Hulle is in absentia verhoor en die vonnis was "death by the cord" vir Carel en Jacob "was to be beaten and branded on the gallows and then be imprisoned for fifteen years".
'n Groot aantal van sulke handgeskrewe dokumente is in die Kaapse Argief beskikbaar. Massas dokumente wat deur die VOC geproduseer was, soos later aangehaal sal word oor stamvader Marneweck, word in "Unesco's Memory of the World Register" ingesluit.
Natuurlik was wrede strawwe ook deur Britse en ander moonthede deur sy skeeps kapteins en plaaslike goewerneurs teenoor onderdane onder hulle gesag uitgevoer, maar dan was dit was waarskynlik meestal gedoen om wet en orde te handhaaf, en nie aan 'n maatskappy met winsbejag as primêre doelwit oorgelaat nie. Onder VOC gesag kan dit geoordeel word dat die strawwe wat uitgemeet was teenoor enige werknemer, vryburger of selfs inboorling, wat oortree het, gedoen was in belang van wet en orde maar ook in belang van die Kompanjie. Doodstraf vir homoseksualisme is byvoorbeeld toegepas, as mens glo wat Dan Sleigh in die boek "Eilande" beskryf het. Die kwessie vir my is dat die VOC oppermagtig was en soos 'n regering opgetree het teenoor almal onder hulle jurisdiksie, ingeslote plaaslike inboorlinge. Die VOC amptenary was wel onderdanig aan die Here Sewentien.
Die heerskappy van die VOC aan die Kaap het vir amper 150 jaar geduur. Dit het in Suid Afrika tot 'n einde gekom met die eerste oorname van die Kaap toe die Britte op 10 Junie 1795 by Muizenberg die Kaap ingeval het. Die Nederlandse regering het nie ingemeng om die oorname te stuit nie, en die VOC kon plaaslik in die Kaap net magteloos toekyk. Die VOC was toe reeds aan die ondergang. Die VOC soos reeds genoem was bankrot verklaar in 1799.
Dit mag lesers interesseer om te weet dat dieselfde lot die Wes Indiese Kompanjie oorgekom het. Die heersende Direkteur-Generaal, Peter Stuyvesant, moes ook die knie vir die Engelse in Nieuw Nederland buig (New York) toe dit ingeval was deur Britse magte. Hoewel hy om hulp gepleit het van die Nederlandse regering wou laasgenoemde nie inmeng nie.
Terug na die VOC se heerskappy aan die Kaap. Om voedsel produksie te verhoog het van Riebeeck aan die VOC voorgestel dat van sy werkers uit hulle kontrakte vrygestel word om self boerderye te bedryf. Hou in gedagte dat elke werknemer 'n langtermyn ooreenkoms met die VOC moes onderteken voordat hy in diens gestel was. Meeste van ons is het sekerlik al gehoor van die stelsel van vryburgers wat die Kompanjie aan die Kaap toegepas het. Dit was myns insiens geensins uit goedhartigheid dat werkers van die Kompanjie "vrygestel" was uit die kontrakte nie, in teendeel, dit was om die VOC se salaris rekening te verminder en produktiwiteit te verhoog. Hierdie manne en hulle gesinne was soos vryslawe behandel, met die Kompanjie as feodale heerser. Vryburgers was verplig om al hulle produkte aan die Kompanjie te verkoop teen pryse en hoeveelhede wat deur laasgenoemde gedikteer was. Swaar strawwe was van tyd tot tyd uitgemeet indien 'n vryburger gevang was dat hy sy produkte aan vreemde verbygaande skepe sonder toestemming verkoop het. Aan die ander hand was die amptenare van die Kompanjie bitter swak betaal en hulle het wyd en syd korrupsie gepleeg om hulle inkomste aan te vul. Dit het soms vanaf die Goewerneur afgesyfer tot die laagste beampte. Mens kan lank voort borduur oor die destydse lewenswyse aan die Kaap, maar wat verseker is, is dat die Kompanjie geensins belang gestel het in die opvoeding, skoling, of kulturele behoeftes van hulle amptenary of die vryburgers nie. Na alles sou dit net ekstra koste meegebring het, met geen teenprestasie aan die kompanjie nie. Voeg daarby by dat alle implemente, yster, gereedskappe en wat nog, deur die Kompanjie ingevoer was en moes die burgery ten duurste daarvoor betaal.
Wat opvoeding betref was skoling natuurlik 'n onnodige uitgawe vir die Kompanjie, en die enigste geletterdheid wat mense ontvang het, indien hulle dit kon bekostig, was van rondreisende sogenaamde onderwysers. Dieselfde het gegeld vir mediese en verswakte versorging. Wat skynbaar wel na omgesien was is christelike opvoeding. Na amper 150 jaar van die Kompanjie se heerskappy aan die Kaap was daar skaars enige skole, vergeet van hoër onderwys, kulturele opvoeding, koerante e.d.m. Koerante was verbode want die VOC was natuurlik bevrees vir vrye spraak en opruiery. So kan mens voortgaan om relaas te lewer oor die bestaan van die meeste mense aan die Kaap. Slegs enkeles was welgesteld en dit het dikwels gepaard gegaan omkopery, byvoorbeeld om konsessies van die Kompanjie te verkry. Ek is nie onnodig besig om die Kompanjie af te kraak nie, maar die geskiedenis spreek vanself. Ek probeer slegs om die omstandighede waarin ons stamvader hom hier aan die Kaap bevind het, in perspektief te stel.
Van die ongelukkigheid van die vryburgers, in die vroeë agtiende eeu, kry mens baie insig in die "Dagboek van Adam Tas" (uitgegee deur Leo Fouche). Adam Tas (1668 – 1722) was 'n gekultiveerde en redelik welopgevoede Nederlands-gebore "immigrant" aan die Kaap, dus sonder verbintenis aan die VOC. Hy het in 1697 hier aangeland en weldra met die welgestelde weduwee Elizabeth von Brakel getrou. Tas se oom, Henning Husing, was glo die rykste en invloedrykste boer in die Kaap en Tas het 'n tyd lank by hom ingewoon. Tas se welbekende plaas "Libertas" is vandag nog net buite Stellenbosch geleë. Die huis bestaan nog maar is in privaat besit toe ek heelwat jare gelede dit besoek het.
Hy was ongeveer 1705 nouste betrokke by 'n groep mans in die omstreke van Stellenbosch, Franschhoek en Drakenstein (Paarl), wat opstandig was teen die Goewerneur, Willem Adriaan van der Stel. Van der Stel het snuf in die neus van 'n sameswering gekry en besluit op drasties op te tree teen die opstandelinge. Sy agterdog het gou op Tas geval, wat volgens hom die eniste persoon was wat so 'n komplot kon lei. Gedurende die nag van 27 Februarie 1706 het hy Tas laat arresteer.
Al Tas se privaat dokumente was in sy lessenaar in die laaie toegesluit. Dit het en ook sy dagboek en 'n proef van die Klagskrif en ander bewyse van die komplot verskuil. Die hele lessenaar is onoopgemaak op sy plaas deur VOC soldate in beslag geneem en per ossewa na Kaapstad vervoer. Dit is aan die Goewerneur, Willem Adriaan van der Stel oorhandig is. Hy het die slotte van die lessenaar laat oopbreek en hy het persoonlik die dokumente deursoek, natuurlik vir inkriminerende inligting. Heelwat van Tas se dagboek het in die slag gebly deurdat van der Stel sulke bladsye wat hom blootgestel het uitgeskeur het. Hierdie bladsye kon nooit weer opgespoor word nie. Gemelde dagboek bevat dus nou maar 'n klein gedeelte, slegs dit wat van der Stel as nie inkrimminerd beskou het. Dit is al wat oorleef het. Tas is in arres in geplaas. Die leiers van die beweging teen van der Stel was Adam Tas, Jakobus van der Heiden, Pieter van der Bijl, Guilliam du Toit en Hercules du Preez. Hulle is almal ook oopgesluit en onmenslik behandel. Die doel van die inkarsering was om die manne te dwing om hulle verklarings, wat aan die VOC gestuur was, om te keer. Hulle was almal gefolter om te hulle oor te haal om hulle getuienis te herroep. Dit was vir van der Stel te laat. Die VOC het hom terstond herroep. Tas was vir dertien maande en sewentien dae tot 6 April 1707 aangehou. Almal is vrygelaat direk nadat die beslissing van die Direkteure die Kaap bereik het.
Dit was streng verbode deur die VOC dat sy amptenare handel dryf. Nietemin het WA van der Stel die bekende plaas Vergelegen ontwikkel met Kompanjie slawe en ander misdrywe. Hy het met ses of sewe vry boere 'n "kartel" gevorm. Die kartel het eerste beurt gekry om graan en wyn aan die VOC te verskaf. Daarna het die ander boere hulle beurt gekry. Die kartel het sowat 'n kwart van alle produksie aan die Kaap beheer. Dit is maar een voorbeeld van die korrupsie op die hoogste vlak deur die Goewerneur. Die gewone amptenary het natuurlik ook aangesit aan die tafel. Hierdie toedrag van sake het waarskynlik van die vroeë agtiende eeu tot die einde daarvan voortgeduur, want as mens let op die situasie soos in "Die Kaapse Patriotte" hierna, het niks verander nie.
Weens die dekades lange onderdrukking van die burgery deur die amptenary van die VOC, en veral die optredes deur die "Independent Fiscaal" het hulle in laat 1700 in opstand gekom. Die ontstaan van die "patriotte" was gedurende die laaste kwart van die agtiende eeu. In daardie tydvak het die betrokke Independent Fiscaal, by name Willem Cornelis Boers, geweldig hardhandig teenoor opstandige burgers opgetree. Na sy mening het die vryburgers, nog hulle plaaslik gebore kinders, oor enige stemreg beskik. Hulle was dus nie Nederlandse burgers volgens sy sienswyse nie, hoewel hulle sogenaamde vryburgers was. Dit is weens sy optrede asook die korrupsie van die amptenare en goewerneurs dat burgers in opstand gekom het.
Hierdie groep, wat hulle self die "Kaapse Patriotte" genoem het, het alle pogings aangewend om op 'n beskaafde wyse en volgens korrekte riglyne hulle saak onder die Goewerneur se aandag te bring. Weens gebrek aan verbetering het hulle later 'n deputasie na die VOC in Nederland gestuur en toe uiteindelik aan die Nederlandse regering te stel.
Hierdie onbillikheid wat die burgers moes beleef het daartoe gelei dat eers briewe ("Burger Memorie van 1779", wat deur burger afgevaardigdes persoonlik aan die VOC voorgelê is) en later nog deputasies na Nederland gestuur is om die saak met die VOC se Here Sewentien te besleg. Die laaste afvaardiging was nog in doenig in Nederland toe die Kaap deur Groot Brittanje oorrompel is in 1795.
Die hele kwessie omtrent die Kaapse Patriotte, is dat die VOC Goewerneur en sy amptenary die burgery onderdruk het, hulself verryk het met korrupsie en onreëlmatige bedrywe, en natuurlik tot voordeel van die VOC opgetree het. Die inwoners was nie verteenwoordig in hulle lande van herkoms nie, synde dit Nederland, Frankryk of Duitsland was. Hulle was onder die heerskappy van 'n winsgedrewe maatskapy.
Soos reeds genoem is dit die agtergrond waarin die Coenraad Marneweck ons stamvader hom bevind het by sy aankoms in 1774 en tydens sy lewe aan die Kaap.
Hoewel die verhaal kwasie-fiktief is word dit veronderstel dat die outeur intensiewe navorsing gedoen het oor die destydse omstandighede aan die Kaap, vanaf die tye vanaf Jan van Riebeeck en daarna. Die meeste van die karakters in die verhaal het werklik bestaan.
"Marnewick, Johann Conrad (II, 322): Hdt. Marneweck. Van Grünberg in Hesse. Onder kinders ontbreek twee seuns, ged. In Lutherse Kerk: Johan Coenraad (1785) getr. op Swellendam 11.4.1813 met Aletta Nortier en Johannes (1790) getr. 13.3.1825 met Martha Clara Maria Scheepers. Marneweck, Anna Margaretha (b2): Getr. op Swellendam 9.8.1812 met Johannes Jürgen Schoeman, q.v."
"Johan Coenraad (Johann Conrad) Marneweck. v Grünberg in Hesse. s.v. Johann Melchior Marneweck en Anna Margaretha Schmidt. Aank. 1774. Soldaat, later dragonder i.d. Goewerneur se lyfwag. Uit diens 1789. 1794 veroordeel om verban te word, maar ontsnap. x 22.2.1784 Engela Elizabeth Otto.
b1 Johan Coenraad, geb. 1785. x 11.4.1813 Catharina Aletta Nortier
b2 Johanna Christina, geb. 28.1.1787, x Wynand Nortier
b3 Johannes, geb. 1790, x 13.3.1825 Martha Clara Maria Scheepers
b4 Anna Margaretha, geb. 18.3.1792. x 9.8.1812 Johannes Jurgen Schoeman"
"Marneweck (Marnewick). Johann Conrad. ar 1774. V. Brünberg (sic) in Hessen. D. Tr. 22.2.1784 Engela Elis. OTTO (K.) : 4 k
b.1. Johan Coenr. (1785). tr. 11/4/1813 Cath. Aletta NORTJE
b.2. Joh. Christina (28/1/1787). tr. Wynand NORTJE.
b.3. Johannes (1790) tr. 13/3/1825 Martha m. SCHEEPERS
b.4. Anna Marg. (1792). tr. 9/8/1812 Johs. Jurgen SCHOEMAN
Marneweck (Marnewick)
Betekenis: Waarskynlik pleknaam.
Stamvader: Johan(n) Koenraad of Conrad Marneweck, van Grünberg in Hesse (Duitsland), seun van Johann Melchior M en Anna Margaretha Schmidt. Kom in 1774 hier aan as soldaat; later dragonder in die lyfwag van die goewerneur. Tree in 1789 uit diens. In 1794 veroordeel om verban te word maar ontsnap. Trou 22.2.1784 met Engela Elizabeth Otto (4 kinders)"
My belangstelling in on familie herkoms gaan terug na die vroeë tagtiger jare. Benewens ons relatief skaars van het ek niks meer van ons agtergrond geweet nie. My pa het niks daarvan geweet of vertel nie. My oupa was reeds oorlede en my pa se familie was taamlik van ons vervreem. My ma het te vertel gehad dat haar skoonpa aan haar vertel het dat die Marnewecks as geloof vlugtelinge hier aangekom het, iewers verbind met die Marne rivier in Frankryk. Dit was natuurlik net fabel.
Op een of ander stadium het ek in die boek van C Pama - Die Groot Afrikaanse Familienaamboek ons naam en herkoms raakgeloop. Al wat ek verseker geweet het was dat die stamvader uit Grünberg in Hesse Duitsland afkomstig was.
Ek onthou in my jong dae dat daar menings verskille was onder die Marnewecks oor die korrekte spelling. Daar was Marneweck, Marnewick, Marnewecke en seker nog 'n paar ander spellings. Soos reeds genoem het die Pretoria telefoongids van die sewentigs en tagtigs van die vorige eeu sowat 20 van die variasies gelys, hoewel ons ouers nie een van hulle geken het nie. Ongelukkig was al die naamgenote verkeerd. Die korrekte spelling is MORNEWEG, soos later verduidelik sal word. Nie net 'n fout was destyds deur die VOC beamptes gemaak met ons stamvader se van nie, maar ook met die korrekte spelling van sy name, wat Johann Conrad was, en nie Johan Coenraad nie!
Nadat my nuuskierigheid oor die naam Marneweck geprikkel was het ek geleenthede benut om ons argiewe te besoek. Sover ek my kan herinner het ek net in die Kaapse argief asook in die Bloemfonteinse argief materiaal oor die naam Marneweck gevind. By verre die meeste inligting was uit eersgenoemde bron verkry. Daar het ek op die werklike storie van JC Marneweck se verbanning uit die Kaap afgekom. Heelwat meer hieroor verder in die geskrif. Afskrifte van al sulke Marneweck dokumente, soos sterfte kennisgewings, testamente, ens. is verkry en word in die bylae bewaar.
Besoeke in die negentien tagtigs aan Duitsland, in werksverband, het twee maal die geleentheid geskep om navorsing daar te doen oor die Marnewecks, spesifiek in Grünberg en Darmstadt.
Tydens 'n besigheid besoek in Frankfurt in 1984, het ek die geleentheid benut om na Grünberg per trein te reis. Die reis gaan eers Noord tot by Giessen, daar klim mens oor en reis dan verder Oos tot by Grünberg. Daar aangekom het ek per voet en by navraag die Pfarrer (predikant) Bremer van die Lutherse kerk opgespoor.
Grünberg, waar alles begin, het speel natuurlik 'n betekenisvolle rol in die Marneweck geskiedenis. Derhalwe is dit die moeite werd en interessant om bietjie nader ondersoek in te stel na die dorp. Die dorp, (dit heet 'n Stadt aldaar), het tot stand gekom in die jaar 1186. Dit is gestig as 'n "burg" vir die landgraaf Friedrich III van Thüringen. 'n Kort geskiedenis (in Duits) asook foto's is in bylaag I 6 te sien. Grünberg is regtig steeds klein maar pragtige dorpie met 'n lang geskiedenis.
Die beste bron daar was die Lutherse predikant (Pfarrer) Joachim Bremer. Hy was ongelooflik hulpvaardig. Die Pfarrer het skynbaar afgelei dat Marneweck eintlik Morneweg was. Hy het destyds in 'n poging om verder behulpsaam te wees met 'n sekere Herr Hans Ott gekorrespondeer oor die familienaam Morneweg. Vir volledigheid word al die betrokke korrespondensie aangeheg in bylae I 1 tot I 3. Pfarrer Bremer het goedgunstiglik en met groot moeite die stamboom in bylaag I 4 saamgestel. Hierdie stamboom is uiters interessant, o.a. wys dit dat daar twee Johann Conrad Mornewegs in daardie tydgleuf was. Uit die stamboom blyk dit duidelik dat die een die direkte oom van die ander was. Hoewel P. Bremer dit nie uitgewys het nie, het albei na die Kaap geëmigreer. Hy het net op sy stamboom dokument verwys dat die jongste van die twee Johann Conrads na Suid Afrika uitgewyk het. Dit was terloops, uit dokumente uit die Kaapse argief, dat die testament van die ander JC Marneweck de oude opgeduik het. Daar het ook 'n aantal verwysings na JC Marneweck de oude en JC Marneweck de jonge uit die argiewe te voorskyn gekom.
Soos hierbo genoem was die Lutherse predikant baie behulpsaam om die Morneweg stamboom, wat ons voorvaders betref na te spoor en aan my beskikbaar te maak. Sy twee stamboom dokumente word as bylae I 5 aangeheg. Hier kan ons sien dat die stamboom terug dateer na 17.2.1699. Mens kan dit in meer besonderhede bestudeer maar vir ons is van belang dat ene Johannes Marneweck (eintlik Morneweg) getrou het met die dogter van Johann Casper Hofmann. 'n Seun gedoop Johan Melchior Morneweg was gebore op 23.1.1725. 'n Ander seun gedoop Johann Conrad Morneweg was gebore op 27.1.1728. Hulle was natuurlik broers. Hierdie Johann Conrad het op een of ander onbekende datum na die Kaap geëmigreer, seker sonder twyfel in diens van die VOC. Sy beroep was moontlik kleremaker, volgens P. Bremer. Ons sal later sien dat hy aan die Kaap as Johan Coenraad Marneweck de oude bekend gestaan het.
Die ander seun Johann Melchior het getrou met Anna Catharina Schmid (3.9.1748). Een van hulle seuns was gedoop Johann Conrad, gebore 29.9.1753. Hierdie JCM het ook uitgewyk na die Kaap, in diens van die VOC. Hy het later in die Kaap bekend gestaan as Johan Coenraad Marneweck de jonge.
Dit oop vir spekulasie of sy oom hom na die Kaap gelok het, of selfs per brief aan sy familie in Grünberg laat weet het hoe dit gesteld was aldaar en moontlik op so 'n wenk hy sy oom gevolg het. Daar is nie inligting beskikbaar welke familielede met mekaar in die Kaap in verbinding was nie. Tog, met die klein bevolking aan die Kaap in daardie jare was dit seker 'n taamlik waarskynlik.
Mens mag vra, indien die korrekte spelling Morneweg was, bestaan dit nog in Duitsland? Volgens gemelde Herr Ott is Morneweg (bylaag I) vandag nog bestaande in Darmstadt. Bietjie navorsing en navrae het dit laat blyk dat Darmstadt eintlik 'n meer bekende omgewing van Morneweg was, en seker nog is.
Die geleentheid het hom destyds voorgedoen dat ek ook die geleentheid gekry het om Darmstadt te besoek.
Die Mornewegs het redelike diep spore in Darmstadt, geleë 30 Km ten Suide van Frankfurt, gemaak. Die stad is die hoofsetel van die Lutherse kerk (in Hesse?) en Grünberg val onder hulle jurisdiksie. Daar is 'n aantal Morneweg interessanthede te vinde. Hier vind mens 'n Morneweg strasse (sien foto van my by 'n straat naambord). Dan is daar 'n Morneweg schule en die reusagtige eikeboom genaamd Darmstadt-Morneweg-Eiche. 'n Bekende en beminde figuur in Darmstadt se geskiedenis is Adolf Morneweg wat vanaf 1891 tot 1909 eers Bürgermeister en later Oberbürgermeister was. Ek noem hierdie interessanthede om die aandag daarop te vestig dat, hoewel skaars, die naam Morneweg steeds in Duitsland voortleef.
Ek dwaal kortliks af om iets interessant te deel. Toe ek die Pfarrer in Grünberg aanvanklik ontmoet het, het hy my gevra of ek ook na die Marneweck fortuin op soek is. Ek het hom natuurlik ingelig dat ek nog nooit van so iets gehoor het nie. Hy vertel toe dat hy onlangs 'n besoek van Australiese mense gehad het op soek na die "Marneweck fortuin". Die een besoeker was 'n bejaarde dame, Katie Lanzi, met die nooiens van Marnewecke. Saam met haar was haar dogter en die se Duitse man, welke almal destyds in Australië gewoon het. Katie Lanzi was uit Suid Afrika afkomstig en het een of ander tyd na Australië geëmigreer. Met inligting aan haar verskaf deur die Pfarrer het sy aan my 'n brief geskryf (Bylaag G1) en so kontak met my gemaak. Ons het vir 'n geruime tyd lank gekorrespondeer. Sy het vir my destyds al die inligting van haar herkoms aangestuur, omdat sy natuurlik agter gekom het dat ek 'n belangstelling gehad het in Marneweck herkoms. Sy het op een of ander tyd in die tagtigs van verlede eeu 'n persoon in Kaapstad aangestel om vir haar navorsing te doen oor haar Marneweck herkoms.
Hoewel die navorsing in onsamehangende bladsye opgeteken was (sien bylae G6.1 – G6.8) bevat dit interessante brokkies inligting. In Bylae G1 tot G5 word briewe wat Katie aan my gestuur het aangeheg. Dit mag moontlik vir iemand in die toekoms interesseer.
Net terloops, sy en ek het nie presies dieselfde stam lyne van Johann Conrad de jonge nie. Sy stam ook van die seun Johannes af, maar daarna gaan haar stamlyn na Adam Marneweck en myne na Petrus Marneweck.
'n Duitse persoon met wie ek destyds gesels het oor die moontlike rede waarom die skryfwyse van die Marneweck naam in Suid Afrika verander het, het my laat verstaan dat die Hessiese uitspraak van Morneweg min of meer soos Marneweck in Nederlands sal klink. Hou in gedagte dat "weg" in Duits klink soos "wek" in Nederlands. 'n Mens kan miskien aanvaar dat die miskien ongeletterde Morneweg (de oude of de jonge!) sy naam in Nederland met kontakmaking met die VOC amptenare uitgespreek en nie gespel het nie, en dit deur die amptenary "Vernederlands" was na Marneweck. Ek dink die Nederlanders het 'n voorliefde vir vanne met die uitgang "ck" gehad, soos bv. van Riebeeck. Hoewel die spelling van Morneweg na Marneweck verander het, wys die argiewe dat dit as Marneweck opgeteken was deur die kompanjie.
Op 'n onbekende datum kom daar 'n Duitser (Johan Coenraad Marneweck) by die Kaap aan, waarskynlik in diens van die Kompanjie. Dit is nie verseker nie, maar waarom anders sou 'n Grünbergse Duitser vir 'n ander rede na die Kaap uitgewyk het? Sy naam was, om korrek te wees, Johann Conrad Morneweg, gebore 27 September 1728 in Grünberg. In dokumente van daardie tyd aan die Kaap word na hom as "de oude" verwys. Sy ouers was Johannes Morneweg getroud met die dogter van ene Johannes Lötz (uit Lennheim). Hulle het getrou op 17 Februarie 1699 in Grünberg. Benewens ander kinders het die egpaar ook twee seuns gehad, naamlik Johann Melchior Morneweg, gebore 23 Januarie 1725, en Johann Conrad Morneweg gebore 27 Januarie 1728. Hierdie Johann Conrad Morneweg, soos wat die leser seker reeds opgetel het, was nie ons stamvader nie. Dit is onbekend wanneer hy in die Kaap aangeland het en wanneer hy 'n vryburger geword, maar hy was definitief vrygestel uit die VOC diens teen einde van sy lewe. Hy het ten tyde van sy afsterwe 'n redelike boedel nagelaat. Daar is feitlik geen ander inligting omtrent hom bekend nie, buiten sy testament gedateer 18 Julie 1793 en sterfte kennis (onseker). Volgens die testament van Johan Coenraad Marnewel(sic) de Oude, aangeheg as Bylaag B1, het hy geen kinders of ander naasbestaandes gehad het nie. Let op die titel "de oude".
Sy testament is erg interessant. Daarin word verklaar dat by sy afsterwe "sijn slaavin, genaamd Dorothea van de Caab, met haarin kinderin Salomon, Rachel en Sarah mede van de Caab, om haar trouwe Diensten door de hier te na te - - - - - - , Direckt na sy overleijden uijt Slaafsche Diensbaarheid, ontslaagen en in vrijdom zullen gesteld worden asmede dat de Slaaven August van Mallabaar en Cupido van Brugies bij opgem: Dorothea van de Caab zullen moeten ter woon gaan en geduurende hun levens lang bij meerm. Dorothea voor Slaaven Blijven dienen". Daarbenewens bemaak hy sy volle boedel ook aan Dorothea. Dit kos seker nie veel spekulasie om te bepaal wie die vader van die kinders Salomon, Rachel en Sarah was nie! Volgens my beperkte kennis was dit destyds die gebruik aan die Kaap om 'n slaaf of slawe vry te stel na afsterwe van die eienaar. Tog het hy sy ander slawe aan Dorethea bemaak. Volgens sy boedel was hy redelik welgesteld maar sonder erfgename.
Die geskiedenis van JC Marneweck de oude sluit af by sy testament gedateer 17 Julie 1793. Geen verdere inligting omtrent hom het opgeduik nie. Aanhaling uit die testament: "den Burger Johan Coenraad Marnewet (sic) de oude van Grauberg (sic), gelegen in Hessen Darmstadt - - ". Verder in die testament (verwys bylaag B1) word gemeld dat sy vrou Maria Magdalena vroeër reeds oorlede was, en skynbaar het hulle nie kinders gehad nie.
Soos reeds hierbo gespekuleer is dit moontlik dat sy nefie hom na die Kaap gevolg het, miskien onder sy aanmoediging per brief maar meer waarskynlik uit die familie se kennis dat "de oude" na die Kaap geëmigreer het. Volgens skrywer Karel Schoeman ('n Duitser aan die Kaap) was daar oor 'n periode van 45 jaar veertien mans wat uit Grünberg na die Kaap gekom. Ook volgens Schoeman was die bevolking van Grünberg maar sowat 2600 in 1760, dus 'n aansienlike getal vir so 'n klein dorpie. De oude en de jonge was sekerlik onder die veertien.
Hy kom te sterwe op 26 September 1797. Sien bylaag A7.
Ek het op 'n paar geleenthede die Staats Argiewe in Kaapstad besoek, om meer uit te vind omtrent die naam. Daar het ek op 'n paar interessante en belangrike dokumente afgekom. Later meer hieroor. Verdere soektogte het my na die Vrystaatse argief, en andere gelei. Ek het maar elke stukkie en brokkie dokumente versamel, so lank dit iets met Marneweck te doene gehad het.
Ons stamvader soos aangeteken in bostaande bronne het aanvanklik in diens van die Kompanjie as soldaat diens gelewer, en later bevorder tot dragonder (berede infanteris of kavalleris) in diens van die Goewerneur. Dit is onseker of hy vryburgerskap verwerf het. Volgens De Villiers en Pama (bron 2 hierbo) was hy in 1789 vrygestel uit diens van die VOC. Ons weet wel dat hy getrou het op 17 Februarie 1784 met Engela Elizabeth Otto. Dit was dus 10 jaar na sy aankoms in die Kaap. Waar sy vrou vandaan gekom het is ook onbekend. Soos hierbo aangedui is uit die huwelik is vier kinders gebore. Daar is twyfel of hy wel uit die VOC se diens ontslaan was, soos wat 4.4.4 hierbo aandui, want in die geskrifte betreffende die hartroerende voorval in 1794, wat hierna beskryf word, word te kenne gegee dat hy 'n dragonder was en sy loon opgeskort was hangende die verhoor.
En toe, 20 jaar na sy aankoms in die Kaap, in 1794 vind daar 'n verskriklike gebeurtenis met hom plaas. Hy was 'n skynbaar 'n gesiene boer met heelwat gesag. Dit is in direkte teenspraak van die inligting dat hy sy loon moes ontbeer tydens sy internering. Hierdie saak illustreer hoe die ekonomiese uitdagings, vererger deur die VOC se verval die gewone burgers getref het. Sy skuldeiser het 'n saak gemaak wat voor 'n Regter De Wet gedien het. Hoewel dit 'n siviele saak was, moes dit in die hoër hof dien, omdat dit die gebruik destyds was in gevalle van handels- en finansiële konflikte.
Sy siviele hofsaak op 5 Junie 1794 voor 'n regter De Wet, in wat beskryf was as "ten ordinaris rechtdag", teenoor 'n ander party by name Hermanus Keyter verskyn het. Marneweck se prokureur was ene Jacobus van Leuwen. Keyter se prokureur se naam word nie aangegee nie. Marneweck het gedurende die verloop van die geding die regter prontuit beskuldig van partydigheid ten gunste van die ander party. Sy presiese woorde in Nederlands was: "hoe kunt je bij God Almagtig verantwoorden dat je mijn procureur verbooten hebt te spreeken en daartoe aan den procureur van sijn (?) parthij volkomen vrijheid hebt gegeeven". Die agbare regter het erg aanstoot geneem en die beswaar van die regter is na hoër gesag verwys. Hy was "ten hoogsten geindigneerd over den verregaande stap van voorsz (?) Marneweck". Na 'n wyle van berading besluit die regter dat binne enkele dae 'n vergadering saamgeroep sal word waar Marneweck die vraag kan herhaal ("na zig eenigen tijd beraaden te hebben, aan dezelve eenvoudig ten antwoord had gegeeven: "binnin wijnige dagen denk ik een extra ordinaire Vergadering te convoceeren, dan sal ik u later appointeeren, en dan kunt gij mij die vraag in den raade zelve voorstellen""). Die regter het dus beslis dat 'n buitengewone vergadering sal geroep word waar Marneweck sy (onbehoorlike) vraag kan herhaal. 'n Kopie van die hele aangeleentheid word in oorspronklke formaat aangeheg as Bylaag C1. Die dokument is ongelukkig redelik dof en is moeilik om te ontsyfer, benewens dat dit in Nederlands van daardie era geskryf was. 'n Handgeskrewe weergawe daarvan is deur my gemaak in 'n poging om lees daarvan te vergemaklik, maar dit is nie vertaal nie (Bylaag C4).
Die prokureur Jacobus van Leuwen was opdrag gegee om ook by gemelde vergadering te verskyn, om te in "defensie" van sy kliënt te verduidelik om welke rede dit hom tot sodanige stap aangespoor het. In die geval herhaal Marneweck "zonder eenige minste haesitasie antwoorde":- "Ik heb aan den E. Achtb. Heere Praesident gezegt, hoe kunt jij 't voor God Almachtig verantwoorden dat jij een ander laat plijten, en mijn advocaat met de hand heeft gewenkt om te zwijgen". Prokureur van Leuwen het ter verduideliking aangevoer dat sy kliënt miskien in 'n swaarmoedige toestand was toe die opskudwekkenfe uitlating gemaak het. Hierna het die aangeleentheid hande uitgeruk. Vanaf 'n belediging eskaleer die kwessie tot 'n punt waar die hof JC Marneweck verskriklike ongegronde etikette aangehang het. Beskrywings soos "oortreder en growwe skuldenaar" en "defaillant en latitant" word aan sy nek gehang. Intussen is hy in hegtenis geneem en van sy loon ontneem.
Engela, Marneweck se vrou het pleidooie by die owerhede aanhangig gemaak maar dit het helaas op dowe ore geval.
Om JCM te oorreed om verskoning aan die regter aan te bied vir gemelde belediging was 'n geskrif opgestel en geadresseer aan die regter (Oloff Gotlieb de Wet), waarin hy (JCM) erken dat hy verkeerd opgetree het (Bylaag C2). Hy word die geleentheid gegun om gemelde geskrif te onderteken waarin hy sy spyt uitspreek en nederig om verskoning vra vir sy "onbesonne en ondeurdagte" optrede word in vertaalde (na Afrikaans) weergawe van sy verskoning aangeheg as Bylaag C6.
Waarna J C Marneweck dit moes onderteken, maar hy het geweier!
Soos reeds genoem verskaf Bylaag C2 'n kopie van die oorspronklike geskrif, dit is moeilik om te ontsyfer. Die dokument is gedateer 27 Junie 1794. Na my mening was die ondertekening van sy "versoek om verskoning", wat ongevraagd namens hom opgestel was, net die punt van die ysberg. Dit wil voorkom of dit ook die ondertekening van eie vonnis sou beteken het, aangesien hy daarin sou onderneem het om "op blote knieë, ens" voor die Kasteel de Goede Hoop te kniel en by die gelui van klokke om vergifnis moes smeek. Daar word boonop gestateer dat die pleidooi "Om dan uiteindelik hierdie persoon wat die versoek tot u rig uit sy siviele gyseling te ontslaan, of soos dit u mag behaag". Die afleiding is dat die regter kon besluit het dat indien die verskoning nie eg genoeg voorgekom het nie, hy die pleitbesorger weer in gevangenisskap geplaas kon word.
Daar word geensins aangedui hoe lank hy op sy knieë moes deurbring nie, terwyl hy om vergifnis moes smeek, maar my vermoede is dat dit miskien dae lank sonder kos en water kon geduur het! Die gebeurtenis was nie net 'n fisieke daad nie, maar 'n publieke vernedering wat sy posisie in die samelewing ernstig sou skaad. De Wet was nie tevrede met 'n private verskoning nie, maar het aangedring op 'n publieke straf, wat 'n sterk boodkap aan anders burgers moes stuur dat die hofgesag nie gering geag mag word nie.
In die dokument (bylaag C1) wil dit blyk dat JCM egter geweier het om toe te gee dat hy verkeerd opgetree het en met sy standpunt volhard het. Hy was daarna as weerspannig beskryf. Hy het klaarblyklik geweier om die dokument waarin hy verskoning sou vra, te onderteken. Die Raad van Justisie besluit vervolgens om 'n voorbeeld van hom te maak sodat andere nie soortgelyk sal optree nie. Hy word uit die Kaap verban (soos beskryf met groot omhaal van woorde in sy finale vonnis Bylaag C3) om as ongewenste persoon terug gestuur te word, na Nederland waar die Here Sewentien verder oor sy lot kon besluit. In die finale deel van die dokument word verwys na die skip waarmee hy na Nederland vervoer sou word, genaamd die Buitenverwachting, wat tussen 29 September 1794 en 24 Oktober 1794 in die baai voor anker gelê het. Hy was aan boord maar het egter in die nag van 23 Oktober uit gyseling ontsnap.
Sy ontsnapping het natuurlik opskudding by die owerhede veroorsaak wat gelei het tot 'n verdere vergadering van die Raad van Justisie wie se uitspraak gedokumenteer is in Bylaag C4. Daarin word uiteengesit dat hy drie maal gedaag was om hom aan die gereg oor te gee (onthou dat hy toe voortvlugtig was). Hierdie grasie om hom drie maal te daag is vanselfsprekend omdat hy nie aangekeer kon word nie. Maar volgens gemelde dokument was die owerhede baie toegeeflik en was die herhaalde drie sitasies uit grootmoedigheid "ex super abundanti, more et loco solitus"! Daarna volg 'n openbare bevel aan hom: "en met klokgelui gedaag om hom voor die 10 de Januarie 1795, in persoon in gereg te laat bring om vir bogenoemde misdryf te kom vergoed en te verantwoord – maar dat hy dit nie goed gevind het nie om in die hof te verskyn nie".
By 'n verdere vergadering (Bylae C3 en C5) van die Raad van Justisie op 31 Januarie 1795 word uiteengesit dat Marneweck tussen 29 September 1794 en 24 Oktober 1794 aan boord was van 'n skip wat gereed gelê het om hom te transporteer. Gedurende die nag van 23 Oktober 1794 het hy ontsnap. Hy was daarna, soos reeds genoem, deur drie ediktale sitasies gedaag om voor die hof te verskyn en op die laaste keer op 4 Desember 1794 met klokgelui gedaag om op die 10 de (van die volgende maand) in persoon te verskyn. Hy het nie verskyn nie. Volgens hierdie dokument (Bylaag C3) word gekonstateer dat, indien die owerhede hom wel kon "agterhaal", sou hy na verdienste gestraf geword het.
Geen dokument kon gevind word wat aandui dat hy wel "agterhaal" is. Verdere kennis van hom het verdwyn soos water in droë sand. Die volgende kennismaking van die Marnewecks was sy en sy vrou se testament van 20 Desember 1824 (Bylaag B2).
Ons mag met reg wonder oor Marneweck se halsstarrige optrede. Hoe verklaar mens dit dat hy bereid was om sy jong vrou en kinders herderloos agter te gelaat het deur te geweier het om sy straf te aanvaar. Was dit van blote hardkoppigheid om toe te gee? Volgens die dokumente is dit duidelik dat hy wel wederstrewig was en sy standpunt volgehoue gehandhaaf het. Iewers moes hy geswig het, maar hy het nie. Om sy straf te geweier het (bylaag C2), wat hy "vrywillig" moes onderneem, moes hy besef het dat daar gevolge van sy weiering sou wees. Intussen was hy sonder loon in gevangenisskap aangehou. Dit was vanaf ongeveer 5 Junie 1794 tot sy ontsnapping op 23 Oktober 1774.
Die eenvoudige aanhaling in Pama se boek oor Marneweck word net genoem dat hy "veroordeel was om verban te word maar het ontsnap". So eenvoudig was dit nie naastenby nie. Dit bring ons onvermydelik by die vraag of hy 'n held was wat nie onder die ergste druk geswig het nie, of het hy in sy hardkoppigheid nie sy familie se lot hoog genoeg geag nie. Daar moes 'n deurdagte rede gewees het waarom hy ten spyte van die uiterste dwang en beproewing gedurende internering volstaan het om te weier.
Wat na sy vonnis gebeur het word hierna uiteengesit maar dit is bloot 'n storie.
Engela was slegs enkele male toegelaat om hom in die gevangenis te besoek, onder andere is sy ook versoek om hom te oorreed om sy skuld te erken. Maar haar laaste besoek toe hy reeds gevonnis was om verban te word was sy toegelaat om afskeid te neem. Dit was sonder twyvel 'n hartroerende afskeid waarin mens jou net kan probeer indink. Maar sy het met 'n plan opgedaag. Gedurende sy internering het Engela saam met hulle beste vriend Dewald Gerritse in groot geheimhouding sy ontsnapping beplan, en die daaropvolgende en onvermydelike voortvlugtigheid ook deeglik in oorweging geneem. By afskeid het sy die volgende woorde is in sy oor gefluister sodat die nabye wag nie kon hoor. "Gaan na die bakboord kant van die boeg en wees gereed om oorboord te gaan in die nag van die 23 ste. Iemand sal jou kom haal". Dit is al wat sy aan hom oorgedra het, om sodoende nie die samesweerders te ontbloot nie. Dewald het reeds 'n betroubare anonieme visserman gehuur wat vir 'n stewige vergoeding in uiterste geheimhouding in die nag van 23 ste met 'n roeiboot uit te gaan na die Buitenverwachting. Dit is die skip waarmee Marneweck na Nederland geneem sou word. Hou in gedagte dat skepe nie in daardie era aan hawe gelê nie, want daar was geen diepwater hawe, maar op die sogenaamde reede ('n ankerplek vir skepe in die baai). Die reede was op 'n aansienlike afstand vanaf die VOC kaai en natuurlik ook weg van die strand.
Die kaptein het dit nie nodig geag om hom aan boord in kettings te slaan nie, omdat die gevangene eenvoudig nie 'n vlugrisiko was nie, nog was hy as gevaarlik beskou. Op daardie nag het hy, toe alles aan boord rustig was, na die boeg van die skip gesluip en aan bakboord oor die reëling getuur om iemand te sien wat hom sou kom haal. Gelukkig was daar genoeg maanlig om die naderende roeiboot te kon sien. Nadat dit baie naby die skip beweeg het, het hy met 'n tou langs die bakboord kant van die boeg afgeseil en 'n klein afstand bo die water bly hang totdat die roeiboot onder hom was. Hy, soos meeste mense wat in die binneland van Europa grootgeword het, kon natuurlik nie swem nie. Hierdie proses was uiters gevaarlik want enersyds was dit in dit nie stil water nie wat die gevaar geskep het dat hy in die see kon val, en sou die boot teen die skip stamp sou 'n wag dit kon hoor en alarm maak. Na hy aan boord was het die visserman eers versigtig en byne geluidloos van die skip weggeroei tot buite hoorafstand, daarna met stewige hale na die Tafelbaai hawe se liggies beweeg. Die landing was suksesvol digby die Varsrivier se monding. Die eerste fase van die ontsnapping was suksesvol. Dewald het die roeiboot ingewag en die man, wie se vissershoed laag oor sy gesig getrek was betaal, waarna hy terug in die roeiboot gespring het en vinnig moontlik weggeroei het. Dewald het toe aan Coenraad gesê "gaan na die Blouvogel Taverne" en hom ook onmiddelik uit die voete gemaak.
Coenraad het geweet waar die Blouvogel geleë was en sonder versuim so vinnig moontlik in die donker daarheen gedraf. Die stad het geslaap, net hier en daar het 'n hond geblaf, andersins was dit donker want ligte was lank reeds afgeskakel. Na sowat 'n halfuur het hy die Blouvogel genader en begin tuur in verwagting dat iemand hom sal inwag. Hy het om die gebou wat maar taamlik klein is beweeg. Naby 'n groot eikeboom aan die regterkant van die gebou het hy 'n beweging van iemand gewaar, wie hom skynbaar ook opgemerk het. By naderkoms merk hy dat dit sy goeie vriend Martin is. Na stewige handdruk het Martin kom begelei na heining 'n klein afstand vanaf die Blouvogel waar 'n perd met sy toom aan 'n boomtak vasgemaak is. Die perd was gesaal en getoom. Agter die saal was 'n bondel vasgemaak. Martin het hom net opdrag gegee dat hy voor dagbreek by Aalwyn van Deventer se plaas by Tygerberg moet wees, en daarna het hy ook in die donker verdwyn.
Dit is bekend uit die geskiedenis dat slawe en ander voortvlugtiges in daardie tye meedoënloos deur soldate agtervolg was tot selfs diep in die berge. Dit was anders met Marneweck. Die mense het die VOC en sy amptenare met 'n passie gehaat en sou hom nie verraai het nie. Aalwyn moes egter op sy hoede wees dat van sy werkers of slawe niks te hore kom nie. Johan is vinnig na die ruim plaashuis se solder geneem en daar vir 'n dag skuil gehou. Die volgende nag is hy weer te perd na 'n ander plaas buite Stellenbosch, ook van 'n ander simpatieke boer waar hy vir etlike maande geskuil het.
Maar na minder as 'n jaar na sy ontsnapping het die Kaap (VOC) beheer aan die Britte oorgegee op 16 September 1795. Dit is na die Slag van Muizenberg op 7 Augustus 1995, dus 10 maande na sy ontsnapping. Die Britse owerhede het sonder twyfel nie in die VOC se regsgedinge betrokke geraak nie, en gevolglik is die soektog na Marneweck nie voortgesit nie. Hy het die VOC owerhede suksesvol ontwyk, want daar is geen bekende feite dat hy opgespoor was nie.
Die Kaap was deur die Britte oorgeneem was en geadministreer tot 1803. Dit verg nie veel verbeelding om te dink dat die VOC owerhede aan die Kaap in onsekerheid gelewe het omtrent hulle toekoms. Die VOC was toe reeds ontbind. Kortom, sake was sekerlik in 'n harwar vir die "Edele Achtbare" here van die Politieke Raad en amptenary. Die "agterhaal", soos genoem in die hof geskrifte, van JCM was die minste van hulle bekommernisse. Sy "saak" het nie vir ons verlore gegaan nie, soos duidelik uit die dokumente wat nog tans in die Kaapse Argiewe blyk en hier aangehaal word. Dat hy dus nie weer gevange geneem was nie, kan mens begryp. Die nuwe owerhede het sonder 'n greintjie van twyfel ander prioriteite gehad as om na voortvlugtige van die VOC te gaan soek, en laasgenoemde se hande was tydelik gebind. Die Kaap is egter deur die Britte aan Nederland terug gegee na die "Vrede van Amiens" (25 Maart 1802). Met die VOC uit die weg het die Bataafse Republiek van Nederland beheer oor die Kaap oorgeneem. Hierdie administrasie het 'n masssa van sake gehad om te hanteer na die Britte pad gegee het, en sou defnitief nie aandag gegee het aan 'n ontsnapte Marneweck nie!
Verdere inligting van Johan Coenraad Marneweck de Jonge vind ons in sy en Engela Elizabeth se testament (Bylaag B2) gedateer 20 Desember 1824. Interessanthede van die testament: Dit verwys na Johan Coenraad Marneweck de oude (sic) en Engela Elizabeth Marneweck (gebore Otto). As eksekuteurs en eksekutrises word aangewys hulle kinders, Johan Coenraad Marneweck (oudste kind), Cornelis Rademeyer?, Johannes Marneweck (3de kind) en Johanna Wilhelmina Margaretha Marneweck? Die testament is 'n "ware afskrif" en dit mag foute bevat. Dit verwys verder na hulle plaas Welgevonden, Olyfantshe rivier onder de Colonie George. Ek kry nie so 'n rivier naby George nie. Die lokasie van hierdie plaas is dus onbekend. Daar is net een Olifantsrivier in die Suid Kaap. Dit vloei deur Oudshoorn omgewing en sluit aan by die Gamkarivier en uiteindelik in die Gouritsrivier. Dit moet verder ondersoek word want die plaasnaam Welgevonden kom elders in die doumente voor.
Engela Elizabeth Otto is oorlede op die ouderdom van 80 jaar 2 maande op 2 dae op 2 Januarie 1837 in die distrik Caledon?. (Sterfte sertifikaat Bylaag A1). Na JCM se dood weet ons weet nie of sy weer getrou het nie, maar op die een of ander wyse het sy vanaf iewers van die klein karoo na Caledon? verhuis. In Sertifikaat word haar ouers aangedui as Michiel en Sara Otto en haar eggenoot as oorlede Johan Coenraad Marnewick. Dit is maklik afleibaar dat sy ongeveer 1757 gebore was en op 27 jarige ouderdom getrou het.
Stamvader JC Marneweck kom te sterwe op 18 Julie 1825. Daar is nie 'n Sterfte Sertifikaat beskikbaar nie, slegs die inskrywing in 'n joernaal (in Engels). Sien Bylaag A2.
In Bylae E1 en E2 verskyn die stambome van die Mornewegs soos verskaf deur Pfarrer Bremer, soos reeds bespreek. Verwys na par. 5.2.
Simbole: ∞ = Getroud Θ = Gebore Ω = SterfJohan Coenraad Marneweck (A6) ∞ Engela Elizabeth Otto (A1)
Θ: 29.9.1753 Ω: 18.7.1826 | Θ: 2.11.1856 Ω: 2.1.1837
Hulle 2de seun:
Johannes Marneweck (A3) ∞ Amalia Carolina Messer (2de vrou)
Θ 20.1.1791 Ω 28.9.1857 | Θ ??.4.1757 Ω 2.1.1827
Hulle ? seun:
Petrus Bertus Marneweck (A16) ∞ Maria Magdalena van den Hever
(ook genaamd Pieter Jacobus)
Θ 21.9.1848 Ω 21.4.1913 | Θ 11.9.1851 Ω 4.8.1871
Hulle enigste seun:
Johan (Jan) Marneweck ∞ Magdalena Maria van Schalkwyk
Θ 23.2.1870 Ω 21.4.1913 | Θ ??.4.1757 Ω
Kinders: Petrus Jacobus (Piet), Martha (Hamman), Johanes Daniel van Schalkwyk, Maria Magdelena(Mallo), Hester (Venter & Burt?), Mazerini Carolina (De Villiers),
Johannes Daniel van Schalkwyk
Marneweck ∞ Maria Jacoba Kruger
Θ 9.1.1905 Ω 5.9.1969 | Θ 8.2.1910 Ω 2.7.1999
Kinders: Johan Wilhelm, Willem Jacobus Kruger (M), Marina, Robert
Willem Jacobus Kruger Marneweck ∞ Petronella Maria Barnard
Kinders: Willem Jacobus, Liezel, Elsje, Hendrik (dood na geboorte)
Ek sluit vir die volledigheid van my navorsing alle bogenoemde wat ek kon bekom hierby in, ongeag of dit op ons direkte familie lyn betrekking het. Dit mag moontlik van nut wees vir ander navorsers.
Onder Register van Geboorte en Huwelik Sertifikate word beskikbare sertifikate gelys en onder Bylae H verskyn kopieë van die dokumente.
Onder die Bylaag van Testamente word beskikbare testamente gelys en onder Bylae B1 – B8 verskyn kopieë van die dokumente.
Bylae D1 en D3 toon lyste van terugkerende krygsgevangene. Die lys D1 (7 bladsye) toon 13 Marnewick prisoniers aan. Johan Marneweck nr. 7660 onder die Ceylon prisoniers, my oupa verskyn op bladsy 5, was een daarvan. Uit die ongeveer 200 prisoniers op die lyste waarvan is 13 Marnewicks, dit dui dit op sowat 6%. Veral inaggenome dat Marnewecks maar yl gesaai was/is, is dit duidelik dat die Marnewecks van die Transvaal en Vrystaat hul deel gedoen het in die oorlog. Dit is natuurlik onbekend hoeveel gesneuwel het of wat nooit gevange geneem was nie. Hierdie inligting sal seker nooit bekend word tensy ander partye feitlike bydraes kan maak.
Kyk mens na die lyste dan blyk dit dat die oudste prisonier 68 jaar oud was en die jongste slegs 9 jaar! Dit lyk of die ouderdomme verwys na die datums van gevangeneming en nie van terugkeer nie, maar dit is effens onseker. 'n Ander interessante waarneming is dat heelwat prisoniers Engelse en Skotse familie vanne gehad het, sommiges met Afrikaanse voorname. Daar is ook 1 Hollander, Pieter Martinus van der Meer, 21 jaar oud (van Java, Wes Indië).
In die boek van RW Schikkerling "Comando Courageous" noem die skrywer ook vele Engelse name in die Boere magte. Hierdie manne was miskien van vroeë Engelse/Ierse/Skotse afkoms maar het hulle as burgers van die ZAR of Vrystaat beskou en die Britte as vyande van hulle land. Natuurlik was daar ook getalle werklike Iere, Nederlanders, Franse, Amerikaners en andere wat ook saam met die boere geveg en gesneuwel het. Maar dit is nie hier ter sprake nie.
My oupa Jan (Johan) is getroud met ouma Magdalena Maria van Schalkwyk en hulle het 2 seuns en 4 dogters gehad. Oupa Jan was skaars 43 jaar oud toe hy oorlede is (gebore 23 Februarie 1870, oorlede 17 of 19 Mei 1942).
Ons meer bekende geskiedenis, minstens soos aan my bekend, is dat my oupa Jan se moeder oorlede is kort na sy geboorte. Sy vader Pieter Jacobus Marneweck, het getrou met Maria Magdelena van den Hefer. Sy is gebore 11 September 1851 en oorlede op 4 Augustus 1871, sy was net 19 jaar, 10 maande en 24 dae oud. Volgens oorlewering het sy pa Pieter gou weer getrou. Ek het verstaan dat die nuwe vrou nie die baba wou grootmaak nie, en oupa Jan is deur sy grootouers van den Hever grootgemaak.
Hierna volg 'n mate van spekulasie want dit is nie opgeteken of aan my oorvertel wat voor en na die oorlog met my grootouers gebeur het nie. Na die oorlog is oupa Jan as krygsgevangene vrygelaat en ouma Maria is op haar beurt uit die Bethulie konsentrasie kamp ontslaan. Dit is onseker of my oom Piet, die oudste, al gebore was, maar my pa is eers op 9 Januarie 1905 op Jagersfontein gebore. Sy ouers is op 'n onbekende plek en datum herenig, maar hulle plaas was defnitief ten gronde. Hy was 'n landbouer van Smithfield distrik. Ek vermoed dat baie hawelose terugkerende Vrystaters gehoor het dat daar werksgeleenthede op Jagersfontein was. My pa Daniel (Danie) het volgens sy min oorvertellings laat blyk dat hy op Jagersfontein grootgeword het. Ek het redelik onlangs eers gehoor dat daar diamand myne op Jagersfontein was, en steeds bedrywig is. My vermoede is dat hy 'n vakleerlingskap as motor werktuigkundige op die myne se werkswinkel deurloop het. Hy het nooit vertel waar hy sy ambag gedoen het nie, maar enkele kere laat blyk het dat dit baie streng was. Hulle moes "alles van voor tot agter van 'n motor kon herstel", vanaf die deur slotte, elekriese bedrading, verkoeling en natuurlik 'n enjin herbou. Hulle moes byvoorbeeld 'n 6-silinder Chevrolet enjin se "tappets" (vir die wat weet wat dit is) instel terwyl die enjin loop.
My ma Mariekie, is op 8 Februarie 1910 gebore. My oupa Willie se eerste vrou was Johanna en hulle het twee seuns en 'n dogter gehad. My ma was sowat 'n jaar of twee oud toe Ouma Johanna oorlede is. Oupa Willie het weer getrou en sy bruid was sy skoonsuster Hendrina (Drienie). Ma is op Steynburg gebore en grootgeword, hoewel eintlik op die plaas Morsfontein enkele "myle" buite Steynsburg. Hier het sy skoolgegaan en matrikuleer. Sy het daarna op Stellenbosch regte studeer, maar volgens haar het sy 'n liefdes teleurstelling gehad met die bekende skrywer PJ Schoeman en na Pretoria (TUKS) gegaan om verder te studeer. Sy het my pa in Pretoria ontmoet en ook hier met hom getrou. Ongelukkig het sy nie haar graad voltooi nie, want volgens haar oorvertelling is oupa Willie oorlede en het fondse opgedroog.
Verdere inligting van ons familie-lyn word nie hier gedokumenteer nie maar wel in my (Willie) se eie familie storie.
📖 Genealogie van Ou Afrikaanse Families — J. Hoge
📖 Geslagsregister van Ou Kaapse Families — De Villiers & Pama
📖 Stamregister van die SA Volk — Du Toit Malherbe
📖 Die Groot Afrikaanse Familienaamboek — C. Pama
📖 'n Duitser aan die Kaap — Karel Schoeman
📖 Eilande — Dan Sleigh
📖 Commando Courageous — R.W. Schikkerling
🏛️ Kaapse Argief & Bloemfonteinse Argief — primêre bronne
⛪ Lutherse Kerkargief, Grünberg — Pfarrer Joachim Bremer, 1984
✉️ Persoonlike korrespondensie — Katie Lanzi (geb. Marnewecke), Herr Hans Ott
← Lees ook: Die Geskiedenis — die volledige verhaal van die stamvader