Van Grünberg tot die Kaap — 'n verhaal van verset, stilte en voortbestaan
Om die verhaal van die eerste Marnewecks in Suid-Afrika te verstaan, moet 'n mens eers die wêreld ken waarbinne hulle aanvanklik geleef het — 'n wêreld beheer deur 'n handelsmaatskappy.
Die van Marneweck is in Suid-Afrika en wêreldwyd seldsaam. Volgens beskikbare bronne kom dit die meeste in Suid-Afrika voor. Ongeveer 1613 mense in die land dra tans die van (ingeslote Marnewick en Marnewecke), wat dit plaas op 'n frekwensie van sowat een uit elke 2790 blanke mense uit 'n totaal van sowat 4.5 miljoen. Selfs waar dit die algemeenste voorkom, bly dit dus ongewoon. Vergelyk dit met die van der Merwes se populasie van sowat 100,000
Vir Willie Marneweck, die samesteller van hierdie argief, het dit reeds vroeg laat wonder oor die herkoms van die van. "As kind het ek besef dat my van nie een is wat mense geredelik herken nie. Wanneer dit wel ter sprake gekom het, was daar dikwels 'n oomblik van huiwering, 'n herhaling, of 'n vraag: "van watter land kom dit vandaan?"
Die herkoms van die van was onbekend. Selfs sy pa kon nie veel oor sy voorvaders vertel nie. Die naam was daar, maar die oorsprong daarvan het ontbreek. Dit was juis hierdie afwesigheid wat altyd onderliggend was.
Van die min sigbare spore van die naam in Suid-Afrika is 'n eensame Marneweckstraat in Moreleta Park, Pretoria, en 'n huis in die Moreleta Park Natuurreservaat wat vroeër as die Marneweck-huis bekend gestaan het (tans die Rademeyer huis).
Volgens rekords van terugkerende krygsgevangenes na afloop van die Anglo-Boereoorlog het 'n beduidende aantal Marnewecks aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem — bewys dat die Marnewecks nie buite die stroom van geskiedenis gestaan het nie, al het dit nie tot openbare bekendheid gelei nie.
Iewers in sy middeljare kom Willie toevallig op die boek van Pama "Die Groot Afrikaanse Familienaamboek" af waarin die herkoms van die familienaam Marneweck uitgespel word. Die stamvader Johan Coenraad Marneweck was afkomstig van Grünberg, Hesse in Duitsland. Hy het volgens hierdie inligting in 1774 aan die Kaap aangekom as soldaat in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC). Na aanleiding van hierdie nuut ontdekte kennis volg daar met verloop van tyd besoeke aan die Kaapse en Bloemfonteinse argiewe. Dit lewer interessante dokumente oor die naam Marneweck op - Sterfte Sertifikate, Testamente e.d.m. Ook baie ander insiggewende dokumente wat handel oor JC Marneweck se wedervarings met die VOC aan die Kaap. In Hoofstuk 6 verskyn 'n belangrike deurbraak na die soeke na sy geskiedenis.
Die Marneweck herkoms neem meer gestalte aan. Hy was dus 'n Duitser en was in diens van die VOC aan die Kaap in die derde deel van die 1700's.
Om sin te maak van die stamvader Marneweck se ervarings aan die Kaap, moet ons miskien ook die wêreld verstaan waarin hy aan die Kaap aangekom het. Die geskiedenis van die Kaap en die rol van die VOC vorm daarom 'n noodsaaklike deel van hierdie verhaal.
Die soektog na die eerste Marneweck in Suid-Afrika neem 'n mens noodwendig terug na 'n veel vroeër tyd. Lank voordat daar sprake was van families, plase of dorpe, was die Kaap bloot 'n stop punt langs 'n seeroete na die Ooste. Dit was al reeds in die vroeë 1600's toe Nederlandse skepe van die VOC hier begin aandoen het.
Die VOC (Vereenigde Oost-Indische Compagnie), gestig in 1602, word vandag erken as die eerste multinasionale maatskappy ter wêreld. Die Kompanjie het handel gedryf oor groot dele van Europa, Afrika en Asië.
Wins was die dryfveer. Die VOC was 'n privaat maatskappy, verdeel in ses kamers wat elk deur 'n Nederlandse stad verteenwoordig is, met Amsterdam as die grootste aandeelhouer. Vir die beveiliging van sy handelsroetes en vestings het die VOC groot aantalle soldate benodig — mense wat bereid was om in diens van 'n maatskappy, nie 'n vaderland, te veg.
Omdat Nederland nie oor genoeg mannekrag beskik het nie, het die Kompanjie na die Duitse state uitgereik. Duitsland was destyds nie 'n verenigde land nie, maar het uit verskeie koninkryke en hertogdomme bestaan. Baie werk soekende mans het na Nederland gemigreer, waar hulle vir diens by die VOC gewerf is. Duitsers kon Nederlands relatief maklik aanleer en was nie afkomstig uit lande wat openlik vyandig teenoor Nederland gestaan het nie. Dit is binne hierdie werwings netwerk dat Marneweck van Grünberg uiteindelik sy pad na die Kaap gevind het.
Oor sy bestaansduur het die VOC meer as 'n miljoen Europeërs na Asië gestuur. Ten spyte van sy omvang en rykdom het die Kompanjie uiteindelik onder sy eie gewig begin ineenstort. Korrupsie, swak bestuur, smokkelary en 'n groeiende skuldlas het die organisasie ondermyn. Op 31 Desember 1799 is die VOC amptelik ontbind.
Teen die middel van die sewentiende eeu het die Kaap vir die VOC 'n strategiese betekenis gekry. In 1652 is Jan van Riebeeck deur die VOC na die Kaap gestuur om 'n verversingspos te vestig — nie 'n kolonie nie, maar bloot 'n tussenstasie op die handelsroete na Asië.
Die eerste jare was swaar. Die omgewing was wild, die infrastruktuur minimaal en die Kompanjie se verwagtinge hoog. Van Riebeeck het aanvanklik 'n eenvoudige fort van hout en klei laat oprig, bekend as die Fort de Goede Hoop. Die bekende Kasteel de Goede Hoop sou eers later gebou word.
Die Kompanjie het die Kaap streng as sy eie besitting beskou. Die hoogste gesag het by die Politieke Raad berus — wetgewende, uitvoerende én regsprekende magte in dieselfde hande, sonder enige teenwig.
Om voedselproduksie te verhoog, het die VOC van sy werknemers uit hul kontrakte vrygestel as sogenaamde vryburgers. Hierdie stelsel was nie uit goedhartigheid nie — vryburgers moes onder bitter moeilike omstandighede al hul produkte teen vaste pryse en beperkte hoeveelhede aan die VOC verkoop. Handel met verbygaande skepe sonder toestemming van die VOC was swaar gestraf.
Die stamvader Marneweck het aan die Kaap in diens van die VOC as soldaat aangekom — later meer hieromtrent. Dit is binne hierdie streng, outokratiese en dikwels ongenaakbare bestel dat sy lewe aan die Kaap sou begin. Hy is later skynbaar vrygestel uit diens van die VOC.
Die geskiedenis van die Kaap gedurende veral die agtiende eeu bevat talle voorbeelde van hoe burgers onder die VOC-stelsel gebuk gegaan het. Werke soos Eilande van Dan Sleigh, Dagboek van Adam Tas van Leo Fouche en Die Kaapse Patriotte van Coenraad Beyers skets beelde van die lewenswyse destyds en hoe gesag in die alledaagse lewe ervaar was.
In Dagboek van Adam Tas kry 'n mens 'n seldsame blik op hoe die VOC se gesag in die alledaagse lewe ervaar is. Die Fiskaal het oor buitengewone magte beskik: hy kon ondersoek instel, mense laat arresteer en vervolging instel sonder ruimte vir verdediging.
Die spanning het 'n eerste breekpunt bereik tydens die bewind van goewerneur Willem Adriaan van der Stel. Adam Tas en ander burgers het klagtes opgestel en na Nederland gestuur. Die reaksie was hard: Tas is in die nag gearresteer, sy dokumente gekonfiskeer, en hy is vir meer as 'n jaar in die kasteel aangehou. Sy dagboek is ongelukkig gedeeltelik vernietig, deur dat van der Stel alle inkriminerende bladsye uitgeskeur het
Teen die derde deel van die agtiende eeu het onderliggende spanning weer na vore begin kom. Die Kaapse Patriotte het ontstaan as 'n groep burgers wat hulself nie meer as tydelike inwoners gesien het nie, maar as mense met wortels aan die Kaap. Een van die figure sentraal in hierdie konflik was die onafhanklike fiskaal Willem Cornelis Boers, wie se standpunt oor Kaaps gebore burgers groot woede aangevuur het.
Die Burger Memorie van 1779 was 'n direkte reaksie — 'n poging om griewe sistematies aan die HERE sewentien voor te lê. Let daarop dat die stamvader Marneweck teen daardie tyd reeds vyf jaar aan die Kaap gewoon het.
Hierdie geskiedenis van onderdrukking, verset en mislukte pogings tot regstelling vorm die onmiddellike agtergrond in die verhaal van Johan Coenraad Marneweck. Die botsing tussen individu en gesag was nie uitsonderlik nie, maar ingebed in die stelsel self.
Die soektog het oor tyd gestalte aangeneem. Sy (Willie se) eerste konkrete leidraad het na vore gekom toe hy in Die Groot Afrikaanse Familienaamboek van C. Pama op die naam Marneweck afgekom het. Hier is vir die eerste keer 'n spesifieke plek genoem: Grünberg in Hesse, Duitsland. Dit was die eerste vaste geografiese ankerpunt in die soektog.
Die oorspronklike familienaam was Morneweg — nie Marneweck nie. Net so was die stamvader se naam nie Johan Coenraad Marneweck nie, maar Johann Conrad Morneweg. Die verandering van beide voornaam en van was tipies van die manier waarop Duitse name binne die VOC-administrasie vernederlands is. Hierdie naam verandering sou later 'n belangrike rol speel in die korrekte lees van argiefstukke.
Grünberg het reeds in 1186 as 'n vesting ontstaan.
Werkverwante besoeke aan Duitsland in die 1980's het Willie die geleentheid gebied om die spoor verder terug te volg. In 1984, tydens 'n besoek aan Frankfurt, het hy per trein na Grünberg gereis via die stad Giessen.
Daar het hy die Lutherse predikant, Pfarrer Joachim Bremer, opgesoek om natuurlik navraag te doen oor die herkoms van Marneweck. Hy was besonder behulpsaam. Met die nodige navorsing in die kerk argiewe kon hy met groot sorg 'n stamboom saamstel wat die Morneweg-familiegeskiedenis terugvoer tot 1699. Hy het nie in sy korrespondensie laat blyk hoe hy Morneweg aan Marneweck gekoppel het nie. Sy stamboom dui duidelik aan dat Johann Conrad Marneweck na Suid Afrika uitgewyk het.
Die Pfarrer het terselfdertyd gekorrespondeer met 'n sekere Herr Ott wat op sy beurt navorsing gedoen het oor die van Morneweg. Die briewe is in die Bylae te vinde
Johan Coenraad Marneweck (aan die Kaap genoem "de oude", gebore 27 Januarie 1728) was die oom van ons stamvader. Al bekende geskiedenis van "de oude" is sy testament, gedateer 18 Junie 1793. Hy het geen wettige kinders uit sy huwelik gehad nie — hy was dus nie ook 'n stamvader nie.
Johan Coenraad Marneweck "de jonge" (gebore 29 September 1753) was die seun van Johann Melchior Morneweg en Anna Catharina Schmid — die nefie van de oude. Dit is hierdie Johan Coenraad wat in 1774 aan die Kaap aangekom het, in 1784 met Engela Elizabeth Otto getrou het. Hy is die werklike stamvader van alle Suid-Afrikaanse Marnewecks.
Die vraag het ontstaan of die naam Morneweg nog in Duitsland bestaan. 'n Verdere besoek aan Darmstadt, sowat twintig kilometer suid van Frankfurt, het bevestig dat die naam daar steeds sigbaar is: 'n Mornewegstraat, 'n Mornewegskool en selfs 'n bekende eikeboom, die Darmstadt-Morneweg-Eiche. 'n Opvallende figuur was Adolf Morneweg, wat tussen 1891 en 1909 as burgemeester en later as Oberbürgermeister gedien het. Daar is skynbaar tans maar slegs 129 Mornewegs in Duitsland
Wanneer Johan Coenraad Marneweck de jonge in die dokumente na vore tree, is dit nie as 'n randfiguur nie, maar as 'n man wat skielik vasgevang is in 'n stelsel wat min ruimte vir teëspraak gelaat het. Tot op daardie stadium het sy lewe aan die Kaap geen besondere aandag getrek nie.
Op 5 Junie 1794 het 'n siviele saak waarin Marneweck betrokke was, voor 'n regter De wet gedien (tydens 'n "ten ordinaris rechtsdag"). Uit die hofstukke blyk dit dat die proses van meet af aan ongelyk verloop het. Marneweck se prokureur is die swye opgelê en nie toegelaat om sy saak volledig te stel of om vrae te vra op dieselfde wyse as die teenparty nie. Wat vir die een kant toegestaan is, is vir die ander geweier. Marneweck het die regter so aangespreek:
"Hoe kunt jij 't voor God Almagtig verantwoorden dat jij een ander laat plijten…"
— Johan Coenraad Marneweck, voor regter De Wet, 5 Junie 1794Sy bevraagtekening van die regter se onpartydigheid het erg aanstoot gegee. Geen regter sal so iets duld nie. Die saak is deur regter De Wet verwys na die Politieke Raad. Wat bloot 'n siviele saak was word nou 'n kriminele verhoor.
Soos reeds genoem is die voorval na die Politieke Raad verwys. Daartydens het hy sy standpunt met presies dieselfde woorde herhaal. Pogings is aangewend om Marneweck tot berou te beweeg, sonder sukses. Sy koppigheid was onbuigsaam. 'n Omvattende geskrif is daarna opgestel waarin hy sy fout sou erken en hom tot openbare vernedering sou verbind. Hy sou op sy blote knieë voor die Kasteel die Goeie Hoop om vergifnis van regter De Wet moes pleit.
Hy het geweier om die boetedoening te onderteken.
Hier begin die vrae onwillekeurig opkom. Wat sou 'n man met 'n vrou en vier jong kinders beweeg om die skulderkenning van die hand te wys? Dat verbanning of tronkstraf in elk geval 'n waarskynlike uitkoms was, van die nie-ondertekening van die boetedoening, het beteken dat hy sy gesin in elk geval sou moes kompromitteer
Die Raad van Justisie het beslis dat Marneweck as 'n ongewenste persoon na Nederland verban moes word. Hy is aan boord van die skip Buitenverwachting geplaas, wat tussen 29 September en 24 Oktober 1794 in Tafelbaai voor anker gelê het.
Die dokumente bevestig dat hy in die nag van 23 Oktober 1794 van die Buitenverwachting ontsnap het. Skepe het destyds nie aan kaaie vasgemeer nie, maar op die reede gelê. Om van 'n skip te verdwyn, sou vernuf, tydsberekening en hulp vereis het. Dat daar hulp was, is ongetwyfeld. Wat presies afgeloop het is onbekend. Dat die VOC owerheid hom nie kon aankeer is 'n feit.
Na sy ontsnapping het die Raad van Justisie drie ediktale sitasies uitgereik wat hom versoek om hom oor te gee aan die gereg. Die laaste oproep, het hom met klokgelui beveel om op 10 Januarie 1795 te verskyn. Hy het nie. Minder as 'n jaar later het die Britse oorname plaasgevind.
Ná Johan Coenraad Marneweck se ontsnapping in Oktober 1794 raak die argief bronne tydelik stil— Sy naam verdwyn tydelik uit die formele rekords in die argiewe. Die Britte sou binnekort die Kaap annekseer, waarna die VOC amptenary in 'n harwar was.
Wat wel seker is, is dat Marneweck nie opgehou het om te bestaan nie. Hy met sy vrou en kinders het voortbestaan. Hulle verskyn later skielik weer saam met hom hulle testament. Hy moes geleef het, gewerk het, oorleef het — al was dit sonder bekendheid in amptelike strukture.
Die stilte duur byna dertig jaar. En dan, onverwags, praat die dokumente weer.
In 1824 verskyn Johan Coenraad Marneweck en Engela Elizabeth Otto se name weer saam in die argief — in die vorm van hulle testament. Ná byna dertig jaar waarin sy naam sovêr bekend, uit die openbare rekord verdwyn het, is dit die eerste konkrete dokument wat weer direk aan hom gekoppel kan word.
Die testament bevestig dat Johan Coenraad en Engela Elizabeth steeds saam was en dat hul gesin voortbestaan het. Waar hy vroeër as ongewenste persoon verklaar is, tree hy hier na vore as iemand wat regtens en sosiaal sy plek ingeneem het. Hulle boer op die plaas Welgevonden, aan die Olyfanche rivier, distrik George
Vanaf hierdie testament volg die Marneweck spoor deur meestal sterfte kennisse tot en met Willie se oupa en pa
Sterfte Kennisse verskaf die nodige leidrade tot die stamboom van Willie se voorgeslagte. Sien volledige stamboom vanaf Johannes Marneweck. Die stamboom van die seun Johan Coenraad is onbekend. Daar mag inligting in die argiewe wees maar dit is nie nagespoor nie
Met elke geslag na die stamvader raak die geskiedenis minder uitgesproke. Hofstukke maak plek vir Sterfte Sertifikate, die mees toeganklike dokumente oor die stamlyn. Testamente is uiters skaars. Willie se stam lyn gaan van Johannes na Pieter Jacobus na Johan na Daniël. Hy id dus die 6 de geslag in Suid Afrika
Die Britse magte het sowat 28 000 mans gevange geneem tydens die oorlog. Die naam Marneweck verskyn in die lyste van krygsgevangenes. Uit sowat 200 name op die lyste van terugkerende gevangenes (Bylaag D1 en D2) verskyn daar 12 Marneweck- of Marnewick-name — omtrent 6% van die totaal. As 'n mens in ag neem hoe yl gesaai die Marnewecks destyds was, sê dit iets: hierdie familie het hul deel in die oorlog gedoen.
Een van die name op die krygsgevangene lys is Johan Marneweck, gevangene nommer 7660, onder die Ceylon-krygsgevangenes. Hy was Willie se oupa. Die lys bevestig dat hy 30 jaar oud was ten tyde van sy gevangenskap en dat hy afkomstig was van die plaas Zweetfontein, distrik Smithfield.
"Ek onthou nog klein items wat hy tydens sy gevangenskap op Ceylon gemaak het — soos servetringe. Hierdie voorwerpe het vir 'n tyd lank bestaan, maar is waarskynlik intussen verlore." — Willie Marneweck
Willie se ouma was in die Bethulie-konsentrasiekamp aangehou. Van daardie tyd is min bekend. Wat wel bekend is, is dat Willie se pa eers in 1905 gebore is — ná die hereniging van sy grootouers na die oorlog.
Oupa Jan (Johan) se plaas Zweetfontein was ongetwyfeld gedurende die oorlog afgebrand en alles verwoes. Mens kan maar net spekuleer hoe haweloos hy en Ouma en hulle reeds gebore kinders was toe hulle op die een of ander wyse weer herenig was.
Ná vrylating het gerugte seker die rondte gedoen van werkgeleenthede by die diamantmyne van Jagersfontein. Die dorp het ontstaan ná die ontdekking van diamante in 1870 en het twee van die beroemdste diamante ooit opgelewer — die Excelsior (1893) en die Jubilee (1895). Mynbedrywighede was afhanklik van meganiese instandhouding, en Willie se pa het daar as motorwerktuigkundige gekwalifiseer.
"So het die lewe, ná oorlog en gevangenskap, weer begin beweeg — stadig, sonder sekerheid, maar tog vorentoe." — Willie Marneweck
Willie Marneweck is self een van vier kinders: sy oudste broer Johan); Willie self; Marina); en Robert, wat reeds oorlede is tydens hierdie skrywe.
Willie en sy vrou Petra het drie kinders, maar geen kleinseuns wat die Marneweck-naam aan sy kant kan laat voortleef nie. In daardie opsig het die naam Marneweck in hierdie tak van die familie tot 'n einde gekom. Die voortbestaan van die Marneweck-naam (vanuit die Johan Coenraad Marneweck-bloedlyn) rus nou by broer Johan se nageslag.
📖 Genealogie van Ou Afrikaanse Families — J. Hoge
📖 Geslagsregister van Ou Kaapse Families — De Villiers & Pama
📖 Stamregister van die SA Volk — Du Toit Malherbe
📖 Die Groot Afrikaanse Familienaamboek — C. Pama
📖 Eilande — Dan Sleigh
📖 Dagboek van Adam Tas — Leo Fouche
📖 Die Kaapse Patriotte — Coenraad Beyers
📖 'n Duitser aan die Kaap — Karel Schoeman
📖 The Covenant — James Michener
📖 Commando Courageous — R.W. Schikkerling
🏛️ Kaapse Argief & Bloemfonteinse Argief — primêre bronne
⛪ Lutherse Kerkargief, Grünberg — Pfarrer Joachim Bremer, 1984